(Jwplayer)

September 20, 2015

ANOTHER #MURDER ?... SA Police tells different stories about Afrikaner man, Jacques van Staden mysterious death




Jacques van Staden wat onder raaiselagtige omstandighede in Barrage Polisiestasie se selle dood is.



Raaiseldood in Barrage se selle


Dit is hoe Buks se bakkie gelyk het toe hy dit by die polisiestasie gaan haal het.

Dit is hoe Buks se bakkie gelyk het toe hy dit by die polisiestasie gaan haal het.

VEREENIGING. – “Die een oomblik was my seun so opgewonde oor die moontlikheid van nuwe werk en die volgende oomblik toe is hy dood.”
Dit is die woorde van ’n hartseer Trudie van Staden, nadat haar seun op 28 April onder raaiselagtige omstandighede in die selle van die Barrage Polisiestasie dood is.
Jacques van Staden (30) het die vorige dag sy pa, Buks se bakkie kom leen omdat hy Nelspruit toe moes gaan vir ’n werksonderhoud. Vroegoggend op 28 April het die polisie aan hul deur kom klop om die skok-nuus aan hulle oor te dra dat Jacques, hul oudste seun waarvoor Trudie 15 jaar lank gewag het, homself in die selle gehang het, nadat hy weens beweerde dronkbestuur in hegtenis geneem is.
Volgens Buks is hulle dadelik na die polisiestasie waar hy sy seun in ’n sittende posisie in een van die selle, met ’n kombers om sy nek, gekry het.
“Dit het nie vir my sin gemaak nie. Die polisie beweer my kind het die kombers in stukke geskeur en homself daarmee gehang, maar ek is nie so seker daarvan nie,” sê Buks.
By die polisiestasie het dit gelyk asof Buks se bakkie in ’n ongeluk betrokke was. Die voorkant is gestamp, die venster aan die bestuurder se kant was gebreek en daar was bloed op die grond. “Ek het hulle gevra of dit my kind se bloed is, waarna hulle bevestig het dit is syne. Tog word daar nêrens melding gemaak van ’n ongeluk nie. Ek het een van die polisiebeamptes gevra om my te gaan wys waar hulle my kind afgetrek het. Volgens dié polisiebeampte het hulle my kind langs die pad in die bakkie gekry, maar die polisieverslag sê duidelik hulle het hom afgetrek, so iewers is ’n slang in die gras,” sê Buks.
Die polisieverslag meld ook dat Jacques vir bloedtoetse geneem is, maar geen uitslag of bloedmonster is in sig nie.
Volgens die nadoodse ondersoek was daar baie bloed in Jacques se longe. Sy lewer was gekneus en bloederig en sy neus was gebreek. Hy het krapmerke op sy wag en aan sy nek gehad. “As my seun dan in ’n ongeluk was en hulle het hom gevat om bloed te laat trek, sou die mediese personeel seker sy wonde ook behandel het? Daar is geen teken van bloed in die bakkie nie en die sel waar ons hom gekry het, was ook netjies. As hy homself dan gehang het, hoekom was sy hande by die kombers by sy nek ingedruk, so asof hy probeer keer het en hoekom was sy gesig nie blou nie? Hoekom sou hy homself hang? Iewers steek iemand iets weg,” meen Buks, wat honderde onbeantwoorde vrae het.
Die Van Staden-egpaar glo hul seun is aangerand en toe vermoor. “Jacques was ’n vriendelike kind. Hy sou altyd ander help waar hy kan en hy het nog nooit selfmoord neigings gehad nie. Ons kry nie berusting nie en dit maak dit soveel moeiliker om sy dood te verwerk,” sê Trudie.
* Vaalweekblad het Barrage Polisiestasie vir kommentaar genader, maar het teen druktyd geen kommentaar ontvang nie 
http://vaalweekblad.com/4105/raaiseldood-in-barrage-se-selle/


#MURDER