(Jwplayer)

October 2, 2015

#Attack: Update: #Afrikaner mother of two loses her entire memory after brutal brick attack on N12




Sy vergeet hele lewe ná aanval

Ma van twee moet van voor af begin


Die baksteen wat ’n swart aanvaller na hul motor gegooi het, het Marionette Schwab (43) se geheue uitgevee.
Heeltemal.
Schwab, van Boksburg, het ernstige kopbeserings opgedoen en kan niks onthou wat voor Donderdag 30 April gebeur het nie.

Toe sy later bykom, het sy nie geweet dat sy twee seuns het nie; sy het nie haar eie naam, ouderdom of geboortedatum geken nie; en het nie geweet hoe om eenvoudige take te verrig nie – soos om te bad of hare te was.
“Ek weet net wat mense vir my vertel.”
Sy kan nie haar kinderdae, skoolloopbaan, familie of stokperdjies onthou nie.
Schwab onthou selfs nie die dag toe haar seuns, Mario (21) en Marthinus (22), gebore is nie.

“Somtyds weet ek wat ek veronderstel is om te sê, maar die regte woorde wil nie uitkom nie,” sê sy.
Sy word baie kwaad en hartseer wanneer sy hoor wat met haar gebeur het.
“Ek is heeltyd bang. Ek huil net en ek weet nie hoekom die persoon dit aan my gedoen het nie.
“Dit is nie reg nie, ons het dit nie verdien nie. Hoe kon hulle my lewe so verander sonder om twee keer daaroor te dink?
“Ek is bang wanneer ek in ’n kar is of tussen baie mense is. Ek wil net by my gesin wees, dis al waar ek veilig voel.”

Schwab is op 1 Augustus terug werk toe nadat sy weke lank in ’n geïnduseerde koma was en twee maande by die Netcare-rehabilitasiehospitaal in Milpark aangesterk het, maar ook die terugkeer kantoor toe is nie maklik nie.
“Ek is nie iemand wat daarvan hou om niks te doen nie, so ek is baie bly dat ek terug by die werk kan wees. Maar dit is ook nie maklik nie.”
Schwab, wat in die IT-bedryf werk en ’n bestuurder by haar maatskappy was, moet nou van onder begin.

’n Aanvaller wat langs die N12, suid van Johannesburg, gestaan het, het die baksteen deur die oop passasiersvenster gegooi en dit het Schwab teen die linkerkant van haar kop getref.
Sy was saam met haar vriend, Darrell Badenhorst, in die motor. Hy het van die pad afgetrek en stilgehou by paramedici wat toe besig was om Caden Slabbert, ’n agtjarige seuntjie van Krugersdorp, te behandel wat kort tevore ook deur ’n baksteen teen die kop getref is.
Badenhorst sê dit is ook moeilik vir haar familie en vriende.
“Haar suster en familie het gehuil toe sy hulle nie herken nie. Wanneer sy iets nuuts eet of doen, moet ons dit eers aan haar verduidelik.”
Hulle moet haar tot die name van kos leer.
Haar seuns kry swaar, want hulle het nie meer die ma wat hulle al die jare geken het nie.
“Sy kan nie meer bestuur of sport beoefen nie. Ons wys vir haar baie foto’s sodat sy vakansies en dinge wat sy al gedoen het, kan probeer onthou.
“Ek het haar verlede jaar na die toets tussen die All Blacks en Springbokke geneem en sy het gesê dit is ’n dag wat sy nooit sal vergeet nie. Maar nou kan sy dit nie onthou nie.”
Dit is ook finansieel moeilik, want hul mediese fonds wil nie vir verdere rehabilitasie betaal nie. Volgens dokters het sy nog minstens drie maande van rehabilitasie nodig.
“Sy loop swaar en kan glad nie met haar linkeroor hoor nie. Sy kan nie uit haar linkeroog sien nie en daar kom ook glad nie trane uit die oog nie.”

http://www.netwerk24.com/nuus/2015-10-02-sy-vergeet-hele-lewe-n-aanval?vc=FOC%2BIpQyvmZIDyrUaImBEzgTR88GSCTPgGQaUD8XtNTiwhcDY%2B%2B80HwfR6WAvsk8xfLcwfOoLuERXUhihGSKww%3D%3D

Read more:

Marionette Schwab (42) was seriously injured when she was struck by a brick






albertonrecord.co.za › attacked-on-n12-a...
Mobile-friendly - May 4, 2015 - ATTACKED: Martienus and Mario SchwabMarionette's sons and Darrel Badenhorst in the parking lot ...

Attack