(Jwplayer)

November 16, 2015

DOUBLE #FarmMurder: Update: Gavin Wolfswinkel (32) shot dead in cold blood on Sunday night on a smallholding in Boschkop area, east of Pretoria





OPVOLG: ʼn Familie wat besig was om troureëlings te finaliseer moet nou begrafnisreëlings tref nadat Gavin Wolfswinkel (32) Sondagaand op ʼn kleinhoewe in die Boschkop-omgewing, oos van Pretoria, koelbloedig vermoor is.

Berig deur Phillip Bruwer. ʼn Familie wat besig was om troureëlings te finaliseer moet nou begrafnisreëlings tref nadat Gavin Wolfswinkel (32) Sondagaand op ʼn kleinhoewe in die Boschkop-omgewing, oos van Pretoria, koelbloedig vermoor is. Gavin se vriend en kollega, ʼn man in sy 30’s wat in ʼn afsonderlike huis op die kleinhoewe gewoon het, is ook in die aanval doodgeskiet. Die vriend se naam word teruggehou totdat sy naasbestaandes in kennis gestel is. “Hy [Gavin] het só daarna uitgesien om te trou en om ʼn pa te word, maar dit was hom nie beskore nie,” het Sandra Wolfswinkel, Gavin se ma, Maandag aan Maroela Media gesê. “Gavin en sy verloofde, Nadia Treeby, het Sondag deur die dag nog die perseel gaan besoek waar hulle op 12 Desember sou trou. Hy het my nog opgewonde gebel en gesê alles is amper gereël, hy moes nog net ʼn pak klere kry. Hy wou graag in ʼn ligblou pak trou. Daarna het hy gesê: ‘Love you’, ek het ‘love you’ teruggeantwoord, minwetend dat dit die laaste keer was wat ek met hom sou praat,” het ʼn gebroke Sandra gesê. Maroela Media het vroeër berig drie gewapende mans het omstreeks 19:45 toegang tot die kleinhoewe gekry deur ʼn gat in die heining te knip. “Die alarm het afgegaan en een van die slagoffers [Gavin] het gaan ondersoek instel terwyl sy verloofde in die huis gebly het,” het kapt. Marissa van der Merwe, polisiewoordvoerder, vroeër gesê. Gavin, wat in die boubedryf is en in Johannesburg werk, se kollega het ook die alarm gehoor en gaan ondersoek instel. Hulle is buite deur die aanvallers verras en oorweldig. Die kollega is in sy bors geskiet en Gavin in die kop. Albei mans is op die toneel dood. Nadia het intussen hulp ontbied en die buurtwag en polisie het gereageer. Die moordenaars het op die vlug geslaan sonder om enigiets te steel en is steeds op vrye voet. “Ons het net ná 20:00 die vreeslike oproep gekry dat my seun dood is. Ons woon ook in Pretoria. My man, Hennie, en oudste seun, Sean, het dadelik na Nadia gery. Sy was in ʼn toestand. Ek het nie kans gesien om saam te gaan nie, ek wil my seun onthou soos ek hom laas gesien het,” het Sandra verduidelik. Sy het gesê ʼn berader van die polisie het Nadia ná die voorval bygestaan. “Sy vat dit nie goed nie. Sy is vandag terug na die huis om hul goed te pak want sy wil nie meer daar woon nie. Sy gaan by haar pa intrek. Gavin se aanstaande skoonouers was baie erg oor hom.” Sandra verduidelik dat Gavin en Nadia mal was oor die kleinhoewe, waar hulle gehuur het. “Ek was nie gemaklik dat hulle daar bly nie, maar hy het gesê dis lekker rustig daar en dat daar genoeg plek is vir hul troeteldiere en dat dit iets is wat hulle nie in ʼn meenthuis sou kon kry nie.” Sy het gesê Gavin en Nadia is groot diereliefhebbers en het katte en honde. “Gavin was baie liefdevol, het ʼn goeie geaardheid gehad, was baie gewild en kon maklik vriende maak. Hy was baie luidrugtig ʼn mens kon hom altyd gehoor het as hy in die omtrek was,” het sy hartseer geskerts. Sy het hom beskryf as ʼn “go getter” met ʼn goeie hart wat nooit toegelaat het dat iets hom onderkry nie. Hy was ook lief daarvoor om aksiekrieket en Playstation te speel as hy tyd gehad het. “En hy was ʼn baie groot kind van die Here, dit gee ons vertroosting in die moeilike tyd.” Gavin se begrafnisreëlings moet nog getref word. Hy laat benewens Nadia ook sy ouers, Hennie en Sandra Wolfswinkel, sy broer en skoonsuster, Sean (40) en Marilyn Wolfswinkel en hul kinders Mia (4) en Ane (7), en sy suster en swaer, Chnay (36) en Deon Coetzer en Chnay se dogter, Merize Wolfswinkel (15), agter. Die polisie se honde-eenheid was Sondagaand op die toneel om te probeer om die verdagtes se spoor te kry, maar was onsuksesvol. Die soektog is Maandagoggend hervat. Die polisie ondersoek twee sake van moord. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. Van der Merwe het gesê dit is die eerste voorval in ʼn lang tyd in die Boschkop-gebied waarin inwoners vermoor is.
http://maroelamedia.co.za/blog/nuus/sa-nuus/jong-man-kort-voor-troudag-op-pta-kleinhoewe-doodgeskiet/

#StopWhiteGenocideInSA